AO3 News

Post Header

Published:
2026-04-12 10:51:07 UTC
Original:
AO3 is Exiting Open Beta!
Tags:

AO3 Nuus

Ons is opgewonde om aan te kondig dat AO3 oop beta verlaat! Ons koppelvlak het al heelwat verander van toe ons die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) se oop beta-uitgawe in 2009 bekendgestel het.

By bekendstelling was daar net 347 AO3-rekeninge en 6 598 werke. Al het ons vinnig begin groei, was ons oorspronklik baie beperk in wat ons kon doen.

Het jy geweet dat AO3-uitnodigings oorspronklik met die hand deur individuele AO3-vrywilligers uitgestuur is? Gedurende die aanvanklike periode van vinnige groei het ons net sowat 1 200 uitnodigings per dag uitgestuur en dit het toe afgeneem tot 50 per dag. Vandag stuur ons ongeveer 6 000 uitnodigings elke 12 uur. Ons ou nuusplasings bevat prettige statistieke oor hoe AO3 se gebruikersbasis en werke in 2009 gelyk het. Om te sien hoe ver ons gekom het, kan jy dit vergelyk met die statistieke wat ons onlangs in Januarie gedeel het.

Wat het sedertdien verander

Sedert 2009 het AO3 baie gegroei en verander. Ons het deur die jare baie funksies bekendgestel deur die pogings van ons vrywilligers en koderingsbydraers, sowel as die kontrakteurs wat ons kon huur danksy ruim skenkings van ons gebruikers. Alhoewel daar baie toevoegings is waarop ons trots is, sluit sommige van ons gunstelinge in:

As ons kyk na waar ons tans staan, het ons onlangs 10 miljoen geregistreerde gebruikers en 17 miljoen fanwerke gevier! Ons is dankbaar vir al die fans wat ons al die jare vergesel het – al ons prestasies is te danke aan julle!

Van die onlangse verbeteringe wat ons aangebring het, sluit in nuwe opsies om boekmerke en versamelings te filtreer en die opdatering van al die knoppies onderaan die vorms vir die plasing, voorskou of redigering van 'n werk om dit meer gebruikersvriendelik te maak.

Wat is volgende vir AO3 en hoe jy kan help

Aangesien AO3 se sagteware al lank stabiel is, is die verandering meestal oppervlakkig en dui dit nie daarop dat alles gefinaliseer is of perfek werk nie. Net omdat ons beta-uitgawe verlaat beteken dit nie ons sal ophou om AO3 te verbeter nie – ons kodeerder vrywilligers en gemeenskapsbydraers sal steeds elke dag werk om AO3 te verbeter en daartoe by te voeg. Julle sal dus waarskynlik nog vir 'n rukkie verwysings na ons beta-uitgawe sien soos ons ons dokumentasie opdateer.

As jy wil uitvind aan watter probleme tans gewerk word, besoek gerus ons projek op Jira. Dit is 'n publieke lys van al die foute en funksies wat op die doenlys vir ons kodeerders is.

As jy vertroud is met kodering en jou tyd wil bydra, verwelkom ons bydraes van enigiemand af! Besoek ons Riglyne om by te dra en ander dokumentasie op GitHub. Alle bydraers word in ons vrystellingsnotas gelys.

As jy belangstel om AO3 te help, maar geen koderingsvaardighede het nie, oorweeg dit om vrywilligerswerk te doen vir een van die ander spanne wat aan AO3 werk of om op 'n ander manier tot AO3 by te dra.

Indien jy 'n versoek het vir 'n funksie of 'n fout wil rapporteer, kontak asseblief AO3 se Ondersteuningskomitee. Die komitee hanteer kommunikasie tussen gebruikers en die verskillende spanne wat by AO3 betrokke is. Die Ondersteuningspan help om tegniese probleme wat gebruikers ondervind, op te los en gee gebruikers se terugvoer aan die betrokke komitees deur.

Sirkelvormige beeld met die woorde 'Ek was hier tydens beta' met 'n AO3-logo

Vir al die fans wat deel was van ons beta-avontuur (van 2009 tot vandag), hier is 'n beeld wat julle enige plek kan vertoon as 'n klein dankie-sê geskenk vir jul ondersteuning! Julle is welkom om hierdie beeld op sosiale media, julle AO3-profiel of enige ander webwerf van jul keuse te vertoon. Byvoorbeeld, as jy die beeld in jou AO3-profiel wil vertoon, voeg hierdie HTML-brokkie <img src="https://media.archiveofourown.org/news/ao3-updates/2026-04-leaving-beta/badge-afrikaans.png"> by die "About Me" (Oor My)-afdeling in jou profiel. As jy meer inligting wil hê oor hoe om beelde in te bed, verwys na ons Algemene Vrae oor Plasing en Redigering of ons gids oor hoe om HTML op AO3 te formateer!

Ons is ongelooflik dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van fans ontvang het sedert ons stigting, so laat ons die eerstes wees om te sê:Welkom by AO3 nou dat die beta-uitgawe jare verby is!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is 'n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.